Aambeie * Aasvoëls * Advertensies tydens die game * Afrikaanse musiek * Afrikaanse rekenaartermen * Amerikaanse sitkoms * Die ANC * Die ANC Jeugliga * Die Apple versus PC debat * Arnold Vosloo en kie * Die AWB * Banke * Bedelaars met ’n liegstorie * Behepteid met die Amerikaanse verkiesing * Bejaarde bestuurders * Benni McCarthy * Besluitlose mense in rye * Beurtkrag * Blou Bul-ondersteuners * Die Boeremag * Buikjeans * David Bullard * Call centres * Carte Blanche * Celebrity nuus * Die Centurion-tannie look * Charlize Theron se aanhangers * Corporate golfende * Gareth Cliff * Crocs * Die DA * Daggarokers * Deaf TV * Deal or No Deal * “De La Rey” * DJ Ossewa * DNA Strings * Dozi * Dronk geselsies in publieke badkamers * DStv * Duur biltong * “Effies” * Egoli * Emoticons * E-pos grappies * Ereksies op snaakse tye * Eskom * Facebook * Fakse *’n Feit soos ’n koei * Fietsryers * Flieks met advertensies tussen-in * Fokofpolisiekar se uitspreek van woorde *’n Gaap wat jy probeer wegsteek * Gatkrampe * Die Gautrein * Gemorskos wat soos gemors proe * Gholf op TV * GPS * Gym-konsultante * Gym-konsultante op die foon * Hadidas * Hangtiete * Hansie Cronjé * Heat * Steve Hofmeyr * Hummers * Infomercials * Instruksies op sjampoe- en conditioner-bottels * Jag en jagters * Jeep-klere * Jong Dames Dinamiek * Kaapse bestuurders * Die Karoppas kartel * Karre se drukvlerke * Kassiere * Kersversierings vier maande voor Kersfees * Klaende ekspats * Butana Komphela * Koos Kombuis * kulula.com se grappies * Kuns en, meer spesifiek, performance art * Kunsfliek-liefhebbers bloot omdat die woord “kuns” deel van die woord uitmaak * Kunsuitstallings * Lesers van hierdie boek * Lisensiekantore * LitNet * Local bands wat UK toe gaan om dit te maak * LOL * Jakkie Louw * Nicholis Louw * Lughawens * Maaggriep (spuities) * Robert McBride * Meisies met seunsname * Mense se honde * Mense wat na hulle gewrigte wys en vir die tyd vra * Mense wat nie e-mails lees nie * Minibusse * Ministers se motorcades * Misdaad * Mos * Mr Delivery * Vending masjiene * Die N1 * Die N2 * Natuurlik * News24 * Nivea-advertensies * Noddy badges * Noot Vir Noot * Die OD * Onderbroeke * Ons boek se cover * Opgemaakte name vir bekende paartjies * Oppikoppi-boneheads * Orania * Oregan Hoskins * “O Ryperd” * Ouers wat die internet blameer as hulle kinders wegloop * Parkeergarages * Plastiek covers op jou nuwe gadgets * Poepe onder die kombers * Poskantoor * Price-fixing en die lae boetes daarvoor * Protesaksie as ’n verskoning om kak te maak * Pryse in Kaapstad * Quik Shops en ander vulstasiewinkels * Quo Vadis? * Jon Qwelane * Restaurant lekkers wat jy saam met jou rekening kry * Restaurant toilette * Dan Roodt * Roomyskarretjie deuntjies * Royalties * SABC2 se rugby uitsendings * Saffas in Londen * Die SA-hokkie span * Die Scorpions-sage * Selfone * Sewende Laan * Sewes rugby * “Sê Wie?” met Niekie van den Berg * Skandaal-gate * Die Son * Sonbrille wat orals behalwe in die son gedra word * Spatare * Star Wars-junkies * Suid-Afrikaanse toeriste * Taxis * Telkom * Top Billing * Uitroeptekens en hoofletters * Ultraklank fotos * Die Uniegeboue * Joost van der Westhuizen * Vereeniging * Versekeringsmaatskappye * Vet mense met shorts * Vliegtuie en vlugte * Die Vodacom-meerkatgesin * Vokof en vok * Volkswagen Suid-Afrika se diens * Volstruispolitiek * Vyfdag krieket * Waterpokkies * “Werk van die huis af” slenters * Winkelsentrums * Witmense met dreadlocks * Woolworths se kospryse * Xenophobia * Ystervarke * Zimbabwe * Jacob Zuma
Aambeie
Hoewel dit nogal tos moet wees om iets trosagtig te hê wat aanhoudend in jou binneboude krap, is ons hier meer ongelukkig oor die woord “aambeie”.
Kon die taalvaders en puriste nie met ’n minder romantiese woord opgekom het vir boudkwale wat moontlik aan luiheid verwant kan wees nie? Aambeie klink so asof dit een of ander eksotiese dis mag wees wat met ’n pikante sousie en glasie versnitwyn, waarvan die naam beswaarlik uitspreekbaar is, voorgesit moet word. Of dalk met room: “Twee porsies aambeie en room vir my en my verloofde, asseblief.”
Wat van “boudbessies”, “ketefbessies” of “kezonkie-neute”?
Aasvoëls
Hulle koek gereeld saam onder bome, op verkeerseilande en voor eenstop-vulstasies. Geduldig wag hulle in laaggemaakte, opgezefte bakkies met blink mag rims en brullende pype. Bofbalpette laag oor die kraalogies getrek tot die radio gil...
Jy trek deur die lug in slow motion terwyl jou lewe voor jou oë verbyflits en jy besef dat jy sopas deur ’n snotdronk bestuurder van jou motorfiets af geklap is. Once.
Nog voordat die polisie by die toneel opdaag om jou horlosie van jou pols af te steel, is die aasvoëls al klaar besig om die dronk ou se kar en jou motorfiets se battery en agterwiel te skaai, want sien, hulle is ingetune op die ambulansdiens en poelieste se channels, pappie.
Kan iemand dalk vir my sê hoe laat dit is?
Advertensies tydens die game
Advertensies het nou maar eenmaal ’n manier om meeste uitsendings tos te maak. Dit laat die Comrades soos ’n sirkus lyk, dit pla as jy die Jean-Claude van Damme-fliek op e.tv wil kyk (sien Flieks met advertensie-onderbrekings). Maar die grootste – en mees onvergeefbare – oortreding moet ads tydens regstreekse sportuitsendings wees.
Die game is ’n stukkie heiligdom in meeste ouens se Saterdag. Jy sien ten minste ’n week lank al daarna uit, spankeuses word bespreek en voorspellings word gemaak. En dan, as die oomblik aanbreek, is dit soos om in ’n boek of fliek verlore te raak. Behalwe dat jy nie hoef te lees of huil nie. Subliem, met ander woorde.
Maar dan, omdat games die vermetelheid het om nie vir advertensies te stop nie, dring uitsaaiers daarop aan om verbeeldinglose, irrelevante en irriterende advertensies tydens speeltyd in te prop.
Gedurende die spel. In die game. Terwyl hulle speel.
Die beeld krimp soos ’n piep in die winter en ’n handelsmerk vat die skerm oor. Met skrefiesoë probeer jy uitfigure wie op pad is na wie se doellyn toe, of dit ’n moerse ses of ’n stupid shot in die lug op is. John Smit? Bryan Habana? Graeme Smith? Sibusiso Zuma?
Intussen flits bemarkingsboodskappe vir iets arbitrêr soos ’n bankrekening flink oor die skerm, en êrens betaal ’n kliënt uit sy boude uit vir dié blootstelling.
Wat verwag adverteerders? Dat ek op hulle vervelige standaardtjekrekening met superhoë bankkostes verlief gaan raak en in lang toue gaan staan terwyl net drie uit tien tellers beman word? Dat ek onmiddellik die game gaan afsit en bank toe jaag, wat dan anyway toe is? Of dat ek sommer net in my TV-kamer gaan begin handeklap – eers stadig en dan al vinniger tot hulle pay-off line my skerm ontsier?
Adverteerders, só bou julle nie ons lojaliteit nie. Inteendeel, ons is geneig om jou handelsmerk selfs nog meer te verpes. Hou julleself in, man, kry ’n bier en kyk die game saam met ons. Daarná kan ons besigheid praat.
Afrikaanse musiek
Hierdie Kersfees is daar net een ding wat ek wil hê. ’n Ander kultuur. Want die fok weet, as Afrikaanse musiek deel moet wees van my kulturele identiteit is ek eerder enigiets anders.
Goed, so ons erfenis was dalk nie so great om mee te begin nie. Daar’s die geskoffel van boeremusiek, die nasionalistiese inslag van ou volksliedjies (baie daarvan sommer uit Duits vertaal) en die suikersoet sentimentaliteit van die ligte liedjie wat gedurende die donker dae van Apartheid so populêr was.
Deesdae weer is daar klaarblyklik so baie kunstenaars en style dat mens dit nie kan klassifiseer nie.Behalwe miskien as kak.
Ironies stel Afrikaanse groep KOBUS! dit die beste: “Ons is gyselaars in een groot kultuurfeestent, word vermaak deur mense met meer selfvertroue as talent.”
Dis asof elke Jan Rap en sy maat wat ’n bokskitaar by Cash Converters koop en ’n paar sub-standaard lirieke in Afrikaans (en paarrym) kan skryf ’n maand daarna sy eie CD op die rak kan hê. ’n Tekort aan talent is definitief nie onoorkombaar nie. Looks tel mos baie en daar’s niks wat ’n stewige backbeat nie kan regtoor nie.
Check bietjie MK op DStv uit. Of eerder, check hulle waaib uit. Want hulle is “with it”. Hulle stook en kook en als wat wild is. Kompleet met ’n MTV-wannabe identiteit en shows soos “Af” wat carbon copies van MTV-programme is.
’n Paar jaar gelede is daar van die “Zoid-generasie” gepraat (na aanleiding van Tannie Zoid, wat nou “gelukkig, gelowig en getroud” is). Laat my asseblief toe om te braak.
Mens sou natuurlik ook kon praat van die “lame” generasie. Want hulle is. Al hierdie nuwe start-up kunstenaars wat dieselfde ou reseppie volg en, “jy weet, net hulle deel vir die Taal wil doen, want dis mos ons taal, en Afrikaans kook hoor, jy moet net hoor.”
Dis baie maklik om hulle te identifiseer. Hoor. Hier’s ’n paar tell-tale signs:
- Hulle cover ’n ou volksliedjie. Maar hulle doen dit swaarder of bietjie anders en dink dan dis moerse cool en vernuwend. Ironies selfs. Sou dalk ook oorspronklik gewees het as dit nie die honderdste groep was wat dit gedoen het nie. En van wanneer af is ou verafrikaanste Duitse volksliedjies cool? Nee man, siesa.
- Hulle oorrond sover moontlik. Dalk omdat hulle uit die verkeerde gat probeer praat. Nou is dit “Bloemfontaain” en als is “verbaai” tussen “jaauw” en “maai”. (Sien ook Fokofpolisiekar se uitspraak.)
- Hulle klink soos... wel almal anders. Almal het ’n tipiese eenvoudige akoestiese-vier-bar rock-klank. Of ’n backbeat. Almal kan mos in ’n band speel. Almal is mos rocksterre. Mos. Rock spiders, as jy my vra.
- Hulle is Afrikaans-behep. Ons weet almal jy is Afrikaans, ons besef jy’s lief vir die Taal en wil nie hê dit moet uitsterf nie. So what? Knoop Pappa nog jou ‘koenveters, en was Mamma nog jou toggos? Jirre, word wakker my ou. Kom by.
Wat ons kan gebruik is meer cool bands wat net toevallig in Afrikaans sing. Want, en dit mag nuus wees vir baie mense, Afrikaans is net ’n taal. Dis nie ’n geloof of ’n issue of ’n lisensie om ’n doos te wees nie.
En net soos Afrikaans ’n taal is, is musiek musiek. Kak musiek is kak musiek. Dit word nie beter omdat dit in Afrikaans is nie.
Die skreiende ironie is dat hierdie kamtige rock-rebelle presies dieselfde konserwatiewe uitkyk het as dié van toentertyd se taalstryders en die tagtigs se Caspirs en besnorde polisiemanne.
Hoe rock ’n roll is dit in elk geval om vir die behoud van ’n taal te stry?
Die ANC
Het die ANC Suid-Afrika uit die donker Middeleeue van rassediskriminasie en leiers met snorre en goedkoop suits gelei? Jip. Het hulle gekeer dat onnodige bloed gestort word en met ’n vergewensgesindheid almal in ons mooi land verwelkom? Verseker. Het hulle onlangs in ’n vet, lui en toenemend korrupte regering verander wat herinner aan (sluk) die Nasionaliste van destyds? Uhm...